Voorwoord
Hierdie boekie is oorspronklik in
Engels geskryf deur Fred R. Coulter, leraar van die Christian Biblical
Church of God, Hollister, Kalifornië, VSA. Die Engelse titel is: “What Do
You Mean The Works of the Law?”, en kan op die webwerf, www.cbcg.org, gekry word.
Wat hier onder volg is nie `n
letterlike vertaling nie maar eerder `n verwerking. Die rede hiervoor is
eenvoudig omdat die outeur oorspronklik die artikel geskryf het vir die
Engelssprekende leser wat met die King James Weergawe van die Bybel vertroud
is asook met die geskiedenis van die vertaling van die Bybel na Engels.
Om sekere
gedeeltes van die artikel meer meer toepaslik vir die Afrikaanse leser te
maak, en ook omdat die Afrikaanse taal soms in `n ander idioom uitdrukking
vind, is die artikel hier en daar aangepas en is enkele toevoegings gemaak.
Wat die
kernonderwerp van die oorspronklike artikel egter aanbetref, naamlik die
Skriftuurlike betekenis van die begrip “werke van die wet”, is daar egter so
na as moontlik aan `n letterlike vertaling gebly.
Laastens –
alle Skrifaanhalings is uit die 1953(Hersiene) Uitgawe van die Bybel In
Afrikaans, (hierin na verwys as “AOV”, synde Afrikaanse Ou Vertaling), tensy
uit die konteks anders blyk. In laasgenoemde geval het die vertaler self die
skrifgedeelte vertaal deur die Bybels, konkordansies of leksikons wat in die
bibliografie aan die einde van die werk verskyn, te raadpleeg.
Inleidend
Wat is die ware Skriftuurlike betekenis
van “die werke van die wet” in verhouding tot “regverdiging deur geloof” en
gebodsonderhouding? Tradisionele Protestantse leringe skep ontsaglike
probleme ter begrip van die ware betekenis van kritieke Skrifgedeeltes, deur
te leer dat, wanneer `n persoon deur geloof geregverdig is, hy of sy nie
nodig het om die gebooie van God te onderhou nie, en dat, diegene wat God se
gebooie en wette onderhou, daardeur regverdiging deur middel van “die werke
van die wet” soek. Hulle haal Rom. 3:20-22, 28 as bewys aan dat iemand wat
“gered” is nie nodig het om die wet te onderhou nie. In die AOV lees
hierdie verse soos volg: “aangesien uit die werke van die wet geen vlees
voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van
sonde. Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet,
terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van
God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want
daar is geen onderskeid nie…Ons
neem dus aan [kom tot die gevolgtrekking] dat die mens geregverdig word deur
die geloof sonder die werke van die wet”.
Die sinsdeel “uit die werke van die wet
geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie,” in verband gebring met die
frases “sonder die wet” en “sonder die werke [Grieks
ergwn ergon,
‘werke, dade’] van die wet, ” skep die indruk
dat wet- en gebodsonderhouding nie vir verlossing vereis word nie. Onder
diegene wat hierdie teorie steun, word gesê dat “die geregtigheid naamlik
van God deur die geloof in Jesus Christus” beteken dat regverdiging deur
geloof is sonder enige werke. Derhalwe is die bevele van God nie langer meer
bindend op diegene wat in Jesus glo nie want “Christus is die einde van die
wet” (Rom. 10:4).
Die verwarring wat deur hierdie
skrifverwysings geskep word, word verder vererger deur wat Paulus in Romeine
2 geskryf het: “omdat nie die hoorders van die wet by God regverdig is nie,
maar die daders van die wet geregverdig sal word” (Rom. 2:13). Hoe is dit
dan dat die “daders van die wet geregverdig sal word” as “die werke van die
wet” nie regverdig nie?
Paulus het verdermeer geskryf dat die
wet nie deur geloof afgeskaf word nie maar, eerder, dat die wet deur geloof
bevestig word: “Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig
nie! Inteendeel, ons bevestig die wet” (Rom. 3:31). In stede van om
met die wet weg te doen het Paulus herbevestig wat Jesus Christus aangaande
die wet geleer het toe Hy gesê het: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet
of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar
om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die
aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit
verbygaan totdat alles gebeur het nie” (Matt. 5:17-18). (Sien asseblief ook
die artikel “How Did Jesus Christ Fulfill the Law and the Prophets?”).
Die probleme met die begrip van hierdie
skrifgedeeltes, asook die foutiewe uitleg van Romeine 3:20-22, het begin met
onakkurate vertalings en aannames. In die geval van die Engelse vertaling
van die Bybel het die onakkurate vertaling met John Wycliffe se 1380
vertaling uit die Latynse Vulgaat begin. In moderne Engels lees hierdie
vertaling as volg: “For of the works of the law, each flesh shall not be
justified before him, for by the law is the knowledge of sin, but now
without the law, the righteousness of God is showed, this is witnessed of
the law and the prophets and the righteousness of God is by the faith of
Jesus Christ in to all men and on all men that believe in him” (Samuel
Bagster, The English Hexapla, 1841). Vergelyk mens dit met die AOV,
(sien hierbo), is die Afrikaanse weergawe vir alle praktiese doeleindes
identies hieraan.
William Tyndale se 1534 Engelse
vertaling verskil ietwat hiervan. Sy weergawe skep egter ook die indruk dat
die nakoming van die bevele en wette nie vereis word nie: “Because that by
the deeds of the law, shall no flesh be justified in the sight of God.
For by the law comes the knowledge of sin. Now verily is the
righteousness that comes of God declared without the fulfilling of the
law, having witness yet of the law and of the Prophets.
The righteousness no doubt which is good before God,
comes by the faith of Jesus Christ unto all and upon
all that believe” (William Tyndale’s
Translation, Samuel Bagster, The English Hexapla,
1841; sien ook Tyndale se Nuwe Testament, 1536).
As mens hierdie verse van nader beskou
sien mens dat Tyndale drie woorde by die frase, “without the law”, bygevoeg
het, te wete, “the fulfilling of,” wat dit dan laat lees, “without the
fulfilling of the law.” Tyndale het te ver van die Grieks afgewyk deur
sy invoeging van hierdie addisionele woorde en die gevolglike vertaling skep
die indruk dat niemand die wet hoef te hou nie. Uit ander werke van Tydale
weet ons dan ook dat hy die direk teenoorgestelde geglo het. Hoe dit ookal
sy, het sy vertaling verdere steun aan die Protestantse opvatting, naamlik
dat Christene nie die wet hoef te hou nie, verleen. In werklikheid het
hierdie verkeerde uitleg aanleiding gegee tot die opkoms van `n “wettelose
genade” wat vadag in die kerk heers en wat absoluut teenstrydig is met
die Woord van God. Die korrekte vertaling uit die Grieks en behoorlike
uitleg van hierdie skrifgedeeltes openbaar egter wat Paulus bedoel
het. Eers moet ons egter die volgende woorde en frase omskryf: sonde, wet,
die letter van die wet, die werke van die wet, die gees van die wet,
regverdiging en die geregtigheid van God.
Omskrywing van Sleutelwoorde en Frases
Sonde: Wat is sonde? Johannes het geskryf, “Elkeen wat
die sonde doen[beoefen], doen [beoefen] ook die wetteloosheid, want die
sonde is wetteloosheid.” (I Joh. 3:4). Sonde sny `n mens van God af en, die
loon van sonde is die dood (Rom. 3:23). Daar is openlike sondes, sondes wat
deur ander gesien kan word en aan hulle bekend is, maar daar is ook bedekte
sondes wat die weggesteekte sondes van die hart en verstand is. Baiemaal sal
`n persoon wat `n bedekte sonde pleeg nie eens bewus wees daarvan nie.
Verder ken niemand die bedekte sondes van `n ander nie aangesien niemand die
gedagtes van `n ander kan lees nie. Aangesien God egter die harte van mense
ken, ken Hy die weggesteekte sondes van die hart. Die apostel Paulus
het oor die booshede van die mens se aard geskryf, naamlik dat daar niemand
is wat regverdig is nie—almal is sondaars: “Wat dan? Het ons enige voorrang?
Hoegenaamd nie! Want ons het tevore al Jode sowel as Grieke beskuldig dat
hulle almal onder die sonde is, soos geskrywe is: Daar is niemand
regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie,
daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle
ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. Hulle
keel is ‘n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is
onder hulle lippe. Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. Haastig is
hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle paaie,
en die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë
nie. Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die
wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan
wees” (Rom. 3:9-19).
Jesus het openbaar dat sonde sy
oorsprong in die hart en verstand van die mens het: “En Hy sê: Wat uit die
mens uitgaan, dit maak die mens onrein. Want van binne, uit die hart van die
mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug,
boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.” (Mark.
7:20-23). Die profeet Jeremia het gesê, “Bedrieglik is die hart bo alle
dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jer. 17:9). En Paulus het ook
gesê, “omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp
hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.” (Rom. 8:7).
Die Wet: In die Nuwe Testament verwys die term, “die wet”,
meestal na die wette en bevele van God soos gevind in die vyf boeke van
Moses. In sommige gevalle verwys dit term “die wet” na die verbond wat God
met Israel gemaak het. In die brief aan die Hebreërs kan “die wet” ook na
die rituele wette met betrekking tot offerandes wat by die tempel in
Jerusalem ge-offer was, verwys. In ander gevalle verwys “die wet” na `n
spesifieke wet. Die doel van God se wet is om sonde te definieer.
Dit verskaf die kennis van wat sonde is, “want deur die wet is die kennis
van sonde” (Rom.
3:20).
As daar geen wet was nie, was daar nie sonde nie.En, as daar nie sonde was
nie sou daar geen noodsaak vir vergifnis gewees het nie, geen noodsaak vir
`n Verlosser nie. Dit is wat Paulus bedoel het toe hy geskryf het, “Want die
wet werk toorn; maar waar geen wet is nie, daar is ook geen oortreding nie”
(Rom.
4:15). Die een wat die wet oortree, of sondig, kom
onder die straf vir sonde. Die uiteindelike einde van sonde is dood, want,
“Want die loon van die sonde is die dood” (Rom
6:23).
Die wet omskryf sonde.
Die wet het geen vermoë of krag om ditself af te dwing of om iemand te
forseer tot gehoorsaamheid nie (Gal. 3:21). Selfs met die kennis van die
wet, sondig mense steeds (Rom.
7:7-25);
gevolglik is die hele wêreld onder die wet en skuldig
voor God, of Hy erken word of nie
(Rom.
2:11-13; 3:19).
Die Letter van die Wet: God het, van die begin van die wêreld af, vereis
dat alle mense Sy wette en bevele in die letter van die wet gehoorsaam.
(Gen. 4:6-8). Later het God, in die dae van Noag, alle lewe met `n vloed
vernietig weens sonde en geweld (Gen. 6:5-13). Na die vloed het God Sy wette
en bevele ingesluit by die verbond wat Hy met Noag en sy familie gesluit het
(Gen. 8:20-22; 9:1-17). Later het Hy Sy verbond met Abraham en sy saad
ingestel. Abraham het God geglo en sy geloof is hom as geregtigheid
toegereken (Gen. 15:4-6). Toe God die die beloftes van die verbond wat Hy
met Abraham ingestel het na Isak toe oorgedra het,het God verklaar dat dit
te danke was aan Abraham se gehoorsaamheid: “En die HERE het aan hom [Isak]
verskyn en gesê: Moenie aftrek na Egipte nie; woon in die land wat Ek jou
sal aanwys. Vertoef as vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees
en jou seën; want aan jou en jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee: Ek
sal die eed bevestig wat Ek vir jou vader Abraham gesweer het. En Ek sal jou
nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al
hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën
word; omdat Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my
insettinge en my wette onderhou het” (Gen. 26:2-5). Die bevele,
verordeninge en wette van God, die onderhouding waarvan Abraham voor
aangeprys is, is dieselfde wat God later aan die kinders van Israel by die
berg Sinaï gegee het.
In God se verbond met Israel, ook die
“Ou Verbond” genoem, is die kinders van Israel voor die keuse tussen lewe en
dood, seën en vloek, gestel, afhangende van hulle nakoming van Sy bevele en
wette: “Kyk, ek het jou vandag voorgehou die lewe en die geluk, en die
dood en die ongeluk. Wat ek jou vandag beveel, is om die HERE jou God
lief te hê, in sy weë te wandel en sy gebooie en sy insettinge en sy
verordeninge te hou, sodat jy kan lewe en vermenigvuldig en die HERE jou God
jou mag seën in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem. Maar as
jou hart hom afwend en jy nie luister nie en jy jou laat verlei, sodat jy
jou voor ander gode neerbuig en hulle dien, dan verkondig ek julle vandag
dat julle sekerlik sal omkom; julle sal die dae nie verleng in die land
waarheen jy oor die Jordaan trek om dit in besit te gaan neem nie. Ek neem
vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood,
die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan
lewe, jy en jou nageslag, deur die HERE jou God lief te hê, na sy stem te
luister en Hom aan te hang; want dit is jou lewe en die lengte van jou dae,
sodat jy kan woon in die land wat die HERE aan jou vaders Abraham, Isak en
Jakob met ‘n eed beloof het om dit aan hulle te gee.” (Deut.
30:15-20).
In Deuteronomium 28 het God die
seëninge vir gehoorsaamheid en die vloeke vir ongehoorsaamheid gelys. Hy het
van Israel verwag om al Sy wette en bevele in die letter van die wet te
gehoorsaam. As teenprestasie sou hulle die fisiese, materiële, seëninge
vanaf God ontvang. Die verbond met Israel het egter geen belofte van
ewige lewe ingehou nie; dit sou nie kom voor Jesus Christus nie. (God
openbaar in die Ou Testament dat sekere uitverkosenes, soos die patriarge,
profete en sekere regverdige konings van Israel en Juda wel die gawe en
belofte van ewige lewe ontvang het. Hulle sal in die eerste opstanding,
wanneer Jesus Christus terugkeer, wees).
Die Werke van die Wet: Hierdie sinsdeel, “die werke van die wet,” is waarskynlik een van die mees
misverstaande frases in die sendbriewe van Paulus. Die verwarring oor die
betekenis van hierdie uitdrukking het sy oorsprong uit `n onakkurate
vertaling van die Griekse term,
ergwn
nomou ergon
nomou wat letterlik “werke van wet” beteken. Dit beteken
nie “die werke van die wet” nie. In baie vertalings van die
Bybel het vertalers die bepaalde lidwoord, “die”, voor “werke” en
“wet” ingevoeg. Dit kom nie in die Griekse teks voor nie. Vertalers het
gevoel dat dit nodig was om die twee bepaalde lidwoorde in te voeg ten einde
die betekenis duideliker te maak. Hulle het egter gedink dat die frase ergon nomou uitsluitlik na die wette en bevele van God verwys. Hierdeur
het die aanname ontstaan dat dit nie nodig is om God se gebooie te onderhou
nie want “die werke van die wet” regverdig niemand voor God
nie. Alhoewel dit waar is dat “werke van wet” [die korrekte vertaling] ook
na die wette van God kan verwys, is dit duidelik dat Paulus `n veel wyer
toepassing hiervan in gedagte gehad het.
As die apostel Paulus bedoel het om dit
as “die werk van die wet” te skryf, sou hy dit so geskryf het in die Grieks.
Om die waarheid te sê, daar is een vers, en slegs een vers, waar Paulus
inderdaad geskryf het “die werk [enkelvoud] van die wet”: “Want wanneer die
heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen,
is hulle vir hulleself ‘n wet, al het hulle geen wet nie; omdat hulle toon
dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle
gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook
verontskuldig” (Rom. 2:14-15).
Die Griekse frase in vers 15 is
to
ergon
tou
nomou
to
ergon
tou
nomou wat, as dit na Afrikaans vertaal word, “die werk van
die wet” is. Dit is heeltemal duidelik dat Paulus hier van die wette van God
praat.
Op sewe ander plekke het Paulus hierdie
uitdrukking gebruik – telkens sonder die bepaalde lidwoord. Op hierdie
plekke het hy “werke van wet”, geskryf. Dus, op al die plekke waar ergon
nomou in die oorspronklike Grieks verskyn, moet dit as “werke van wet” en
nie as “die werke van die wet”nie, vertaal gewees het. Hier volg `n lys van
die sewe ander plekke waar Paulus die uitdrukking,
ergwn nomou
ergon
nomou “werke van wet”, gebruik het:
1). Rom. 9:31-31: “terwyl Israel, wat
`n* wet van geregtigheid nagejaag het, `n* wet van
geregtigheid nie bereik het nie. Waarom? Omdat dit nie uit *geloof was nie,
maar net asof dit uit *werke van *wet was; want hulle het hul gestamp
teen die steen van aanstoot.” [*- in die AOV is die bepaalde lidwoord
“die” telkens verkeerdelik hier ingevoeg. Die bepaalde lidwoord verskyn nie
in die oorspronklike Grieks nie.]
2-4). Gal. 2:14-16: “Maar
toe ek sien dat hulle nie reguit loop volgens die waarheid van die evangelie
nie, het ek vir Petrus in teenwoordigheid van almal gesê: As jy wat ‘n Jood
is, soos ‘n heiden lewe en nie soos ‘n Jood nie, waarom dwing jy die heidene
om soos Jode te lewe? Ons wat van nature Jode en nie sondaars uit die
heidene is nie, terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit werke van wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs
ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die
geloof in Christus en nie uit werke van wet nie; omdat uit werke van wet geen vlees geregverdig sal word nie.”
5). Gal. 3:2: “Dit alleen wil ek van
julle weet: het julle die Gees ontvang uit werke van wet of uit die
prediking van die geloof?”
6). Gal. 3:5: “Hy wat julle dan die
Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit werke van
wet of uit die prediking van die geloof?”
7). Gal. 3:10: “Want almal wat uit werke van wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is
elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te
doen nie.”
Die Ware Betekenis van “Werke van
Wet”: Dit is uit
bovermelde skrifgedeeltes duidelik dat Paulus die tradisionele wette van
Judaïsme ingesluit het in die uitdrukking “werke van wet.” In Galasiërs 2
het Petrus en ander nie `n wet van God nie maar `n tradisionele wet van
Judaïsme, naamlik dat `n Jood nie saam met nie-Jode mag eet nie, nagekom.
Petrus het van beter geweet want, vyftien jaar vantevore toe God vir Petrus
na Cornelius se huis gestuur het, het Petrus aan Cornelius gesê: “Julle weet
dat dit ongeoorloof is vir ‘n Joodse man om met iemand van ‘n ander
volk omgang te hê of hom te besoek; maar God het my getoon dat ek geen mens
onheilig of onrein mag noem nie” (Hand. 10:28). Petrus het hier van `n wet
van Judaïsme gepraat - `n mensgemaakte tradisie. Paulus se gebruik van die
uitdrukking “werke van wet” sluit derhalwe alle mensgemaakte godsdienstige
tradisionele wette van Judaïsme in (Mark. 7:1-13). Dit kan ook na heidense
godsdienstige rituele en die offerandes wat hulle aan hulle gode geoffer
het, verwys (Hand. 14:8-18).
Bykomstig hiertoe kan die uitdrukking
“werke van wet” ook na al die rituele en offerandes van die Ou Verbond
verwys. Paulus het geskryf dat dit onmoontlik vir daardie rituele en
offerandes is om vir ons sondes voor God die Vader in die hemel versoening
te doen: “Want die wet, wat ‘n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie
die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar
na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie.
Anders sou hulle opgehou het om geoffer te word, omdat die wat die diens
verrig, nadat hulle een maal gereinig is, geen bewussyn meer van sondes sou
gehad het nie. Maar in dié offers is daar jaar na jaar ‘n herinnering aan
die sondes; want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde
wegneem” (Heb. 10:1-4).
Om op te som, “werke van wet” verwys na
die werke van enige wet – die wette van God, die wette van Judaïsme en die
wette van heidense godsdienste. Paulus het ongetwyfeld bedoel om die wydste
moontlike betekenis aan die uitdrukking “werke van wet” te verleen wat dan
alle werke van alle gelowe insluit.
Die Gees van die Wet: Jesaja het geprofeteer dat Jesus Christus die wet
sou groter maak: “Dit het die HERE behaag ter wille van sy geregtigheid om
die onderwysing* groot en heerlik te maak.” (Jes. 42:21). [*-
in die oorspronklike Hebreeus staan daar
hrwt tôrah, wat “wet”,
bedoelende die wet van God, beteken]. Die Hebreeuse woord wat hier as
“groot” vertaal is, is
ldg ghadal, en beteken,
onder andere, in die werkwoordvorm soos dit hier verskyn: “groot maken,
aanzien geven, grote dingen doen” (Hebreeuws – Nederlands Lexicon).
Die Hebreeuse woord wat hier as “heerlik” vertaal is, is
rda adar,
en beteken, onder andere, in die werkwoordvorm soos dit hier verskyn: “glorierijk
maken” (Hebreeuws – Nederlands Lexicon).
Jesus Christus het die wet in al Sy
onderwysings meer aansien gegee, groter gemaak as die eng letter-van die-wet
benadering, die wet inderdaad met die glorie wat dit moet geniet, uitgelê en
verduidelik. In die “bergpredikasie” het Jesus herhaaldelik gesê: “Julle het
gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is…maar Ek sê vir julle…”
(Matt. 5-7). Hy het verklaar en geleer dat die wette en bevele van God “in
die gees van die wet” onderhou moet word. Dit beteken nie in `n afgewaterde
vorm nie. Inteendeel, dit is in `n verhewe vorm – vêr groter en hoër as in
die vorm van die letter, `n baie hoër standaard! Onderhouding in die letter
is nie goed genoeg nie! Dit is wat Jesus geleer het! En ten einde die gees
van die wet te gehoorsaam het mens die Heilige Gees van God nodig en ook dat
die wette en gebooie van God in die hart en verstand ingeskryf word.(Heb.
10:16-17).
Aangaande die onderhouding van die wet
in die gees daarvan, het Paulus geskryf, “…sodat ons in nuutheid van die gees en nie in die oudheid van die letter nie, kan dien...Dus is
die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed…Want ons weet dat die wet geestelik is” (Rom. 7:6, 12, 14). Paulus praat in hierdie
skrifgedeeltes van die geestelike opset of motief, vir die onderhouding van
die gebooie van God. Dit word genoem - die gees van die wet.Ware Christene
sal die wette en bevele van God in nuutheid van die gees gehoorsaam. Nie
alleen sal hulle gehoorsaamheid uit hulle harte kom nie maar, dit sal ook
uiterlik waarneembaar in hulle dade wees. Kortom, die ware Christen sal God
se wette en bevele gehoorsaam omdat hy of sy dit uit sy of haar hart wil gehoorsaam omdat hy of sy God lief het met sy of haar hele wese.
Die hele Wet en die Profete is gegrond
op liefde en moet in die gees van die wet onderhou word.Dit is wat Jesus
Christus bedoel het toe op die skrifgeleerde se vraag geantwoord het: “En
toe een van die skrifgeleerdes wat bygekom het, hulle hoor redetwis, en wis
dat Hy hulle goed geantwoord het, vra hy vir Hom: Wat is die eerste gebod
van almal? En Jesus antwoord hom: Die eerste van al die gebooie is: Hoor,
Israel, die Here, onse God, is ‘n enige Here; en jy moet die Here jou God
liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en
uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod. En die tweede, soortgelyk, is
dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter
as dié nie. En die skrifgeleerde sê vir Hom: Goed, Meester, U het met
waarheid gesê dat God een is en daar geen ander is as Hy nie; en om Hom lief
te hê uit die hele hart en uit die hele verstand en uit die hele siel en uit
die hele krag, en om die naaste lief te hê soos jouself, is meer as al die
brandoffers en die slagoffers. Toe Jesus sien dat hy verstandig geantwoord
het, sê Hy vir hom: Jy is nie ver van die koninkryk van God nie. En niemand
het dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie” (Mark. 12:28-34). Mattheus het
ook Jesus se woorde hieromtrent neergeskryf,en, “Aan hierdie twee gebooie
hang die hele wet en die profete” (Matt. 22:40).
Jesus het nadruklik gebodsonderhouding
gegrond op liefde vir God, geleer: “15As julle My liefhet, bewaar
die gebooie – naamlik, My gebooie…21Wie my gebooie het en dié
bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader
liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar…As iemand My liefhet,
sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe
kom en by hom woning maak.
24Hy
wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor,
is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het…9Soos
die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie
liefde van My. 10As julle my gebooie bewaar, sal julle in my
liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in Sy liefde bly”
(Joh. 14:15, 21,23-24; 15:9-10).
Die apostel Johannes het geskryf dat
die gebooie van God nie swaar is nie: “3En hieraan weet ons dat
ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. 4Hy wat sê: ‘Ek ken Hom’,
en sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie. 5Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God
waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. 2Hieraan
weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy
gebooie bewaar. 3Want dit is die liefde tot God, dat ons sy
gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie.” (I Joh. 2:3-5; 5:2-3).
Wanneer `n mens tot bekering gekom het
loop mens die lewenspad in nuutheid van lewe en doen mens die “goeie werke”
van om God lief te hê en Sy gebooie te onderhou. (Soos duidelik uit die
aangehaalde skrifgedeeltes uit Johannes se evangelie en sy sendbrief hierbo
blyk, is dit juis wanneer en omdat ons God uit ons harte liefhet dat ons Hom
gehoorsaam. Al Sy wette is uit liefde vir ons gemaak en daarop gebaseer. Hy
het Sy wette nie gemaak om dit vir ons moeilik te maak om Hom te dien nie,
of as `n straf nie. Dit is goed vir ons om Sy gebooie te onderhou, dit het
net seën tot gevolg – in besonder geestelike seën). Gebodsonderhouding in
die gees van die wet hou mens terug van sonde want “ deur die wet is die
kennis van sonde.”
Regverdiging deur Geloof: Wanneer iemand in `n staat van sonde leef, is hy
of sy afgesny van God. Ten einde die verhouding met God reg te stel moet `n
sondaar hom of haar tot God bekeer (tot sondebesef kom, berou hê, besluit om
weg te draai daarvan, jou sondes aan God te bely – die proses van bekering),
en die offerande van Jesus Christus aanvaar as volle betaling vir sy of haar
sondes.
God regverdig die bekeerling afsonderlik,d.w.s, apart van, gebodsonderhouding.
Niemand kan voor God geregverdig word
deur enige werk van enige wet nie. Inteendeel, regverdiging word aan `n
gelowige gegee op grond van geloof. Hierdie gevolglike staat van
regverdiging word ook dan die “gawe van geregtigheid” genoem, iets wat God
die Vader vry en verniet aan die gelowige toereken (Rom. 5:17).
Die funksie van die wette en bevele van
God, daarenteen, is om aan die mens te wys hoe hy of sy moet lewe en om
hulle te wys wat sonde is. Geen wet kan sonde vergewe nie. Dit is nie die
doel van God se wette en bevele nie. So kan geen wet derhalwe die ewige lewe
gee nie. Dit ook, is nie die doel van God se wette en bevele nie. Dit
is, eenvoudig gestel, nie die funksie van die wet nie. Net God die Vader kan
iemand regverdig van sonde en Hy doen dit deur die offerande en bloed van
Jesus Christus, `n handeling wat afsonderlik, apart, van wets- en
gebodsonderhouding staan.
Nogtans doen regverdiging van
verlede sondes nie weg met die wet of die goeie werke wat God van elke ware
gelowige vereis nie. Dit is dan ook wat Paulus
bedoel het toe hy in Romeine 2:13 geskryf het: “13omdat nie die
hoorders van die wet by God regverdig is nie, maar die daders van die wet
geregverdig sal word.”
Die Geregtigheid van God: Die geregtigeid van God blyk uit Sy genadige
vergifnis van sonde deur, (as gevolg van), die offerande en bloed van Jesus
Christus. Hierdie geregtigheid plaas die vergeefde sondaar in regte
verhouding tot God. Paulus het geskryf: “want almal het gesondig en ontbreek
aan die heerlikheid van God, maar word vrylik deur Sy genade
geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is; Wie God
openlik voorgestel het om as ‘n versoening, deur geloof in Sy bloed, te wees, ten einde Sy geregtigheid te toon deurdat Hy die
sondes ongestraf laat bly het wat in die verlede gedoen is onder die
verdraagsaamheid van God; ja, in hierdie tyd openlik Sy
geregtigheid te verkondig, sodat Hy regverdig kan wees, en die een Wie
die een wat uit die geloof van Jesus is, regverdig.”
(Rom. 3:23-26). Die geregtigheid van God waaroor Paulus skryf, is die
uitdrukking van God se liefde, barmhartigheid, vergifnis en regverdiging
deur Jesus Christus. In `n sekere sin is die woorde “regverdiging” en
“geregtigheid” hier sinonieme van mekaar, want die geregtigheid van God
beteken die regverdiging wat Hy vrylik aan die gelowige bekeerling skenk.
“Sonder die Wet” : Die sinsdeel “sonder die wet”
in die Afrikaanse vertaling (Rom. 3:21) is `n verdere misverstaande frase
want “sonder” skep die indruk dat daar hoegenaamd geen wet is nie. Net soos
wat dit die geval is in Engels, waar die woord “without”, (soos dit in die
King James vertaal is), die betekenis van “the absence of,” dra, dra
“sonder” ook die betekenis van “in afwesigheid van, ” in Afrikaans. Vir
hierdie rede glo baie mense dat diegene wat Christene word nie langer nodig
het om op enige van God se wette en bevele ag te slaan nie. Die Engelse
woord “without” in die King James en die Afrikaanse woord “sonder”in
die 1953 Vertaling is egter `n verkeerde vertaling van die Griekse woord
cwriV choris. Choris beteken “afgezonderd, afzonderlijk, zonder iets, behalve,
uitgezonderd” (Hebreeuws-Nederlands Lexicon). In Engels is dit
“separately, apart from, by itself, without” (Bauer, Arndt and Gingrich, Greek English Lexicon of the New Testament,
1974). Die korrekte vertaling van
cwriV choris is
dus “afsonderlik van wet.” Aangesien die wette en bevele van God nie
ophou bestaan het nie, is die frase “afsonderlik van wet” meer presies want
dit toon dat die funksie van die wet afgesonder, afsonderlik, is, van die
funksie van regverdiging deur geloof.
Die Korrekte Vertaling van
Romeine 3:20-26
Met `n behoorlike begrip van die woorde
en uitdrukkings wat die apostel Paulus gebruik het, is dit moontlik om `n
meer presiese vertaling van Romeine 3:20-26 te gee. As hierdie moeilike
skrifgedeeltes wat deur Paulus geskryf is korrek vertaal word is dit
makliker om te verstaan: “Daarom, deur werke van wet,
sal geen vlees voor Hom geregverdig word nie; want deur die wet is
die kennis van sonde. Maar nou is die geregtigheid [regverdiging] van God wat afsonderlik is van wet, geopenbaar en die Wet en die Profete
is getuienis daarvan en die geregtigheid [regverdiging] van
God wat deur die geloof van Jesus Christus is,
teenoor almal en oor almal die wat glo; want daar is geen verskil nie. Want
almal het gesondig en kom die heerlikheid van God kort; maar word
vrylik geregverdig deur Sy genade deur die verlossing wat in Jesus Christus is; Wie God openlik openbaar het as `n versoening deur geloof in
Sy bloed ten einde Sy geregtigheid [regverdiging] te toon ten
opsigte van die vergifnis van sonde wat in die verlede, in die tyd van
God se verdraagsaamheid, begaan is; ja, om openlik Sy
geregtigheid [regverdiging] te verklaar in hierdie tyd sodat Hy regverdig kan wees en die een Wie die een wat van die geloof
van Jesus is, regverdig.”
Vergifnis van sonde en regverdiging
voor God word slegs deur middel van die offerande en bloed van Jesus
Christus verkry. Hierdie is gawes, (geskenke), vanaf God aan die bekeerling
en kan nie deur middel van iemand se werke verdien word nie, soos Paulus
geskryf het: “8Want deur genade is julle gered, deur geloof,
en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe vanaf God, nie uit
werke nie, sodat niemand kan roem nie. Want ons is Sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot die goeie werke wat God vantevore
voorberei het, sodat ons daarin kan wandel” (Efe. 2:8-10).
Alhoewel geen werk van enige wet
geestelike reverdiging kan meebring nie vereis God die Vader en Jesus
Christus van diegene wat die Gees van God het, om Sy wette en bevele in die
gees van die wet te gehoorsaam. Wetsonderhouding en regverdiging deur geloof
het twee verskillende doeleindes. Beide is noodsaaklik vir verlossing.
Bibliografie
Afrikaanse vertalings van die Bybel.
1. Die 1933 vertaling
2. Die 1953 (hersiene) uitgawe
3. 1983 Nuwe Vertaling
4. Die Nuwe Lewende Vertaling, 2006
Engelse vertalings van die Bybel.
5. King James Version, 1611
6. The Holy
Bible In It`s Original Order, A New English Translation, York Publishing
Company, Hollister,California, USA (ISBN 13:978-0-9675479-9-2)
Bybels in die grondtale.
7. Old Testament, Hebrew and English, The
British and Foreign Bible Society, London
8. The Interlinear Bible, Hebrew-Greek-English,
Jay P. Green (Editor and Translator)
9. George Ricker Berry’s edition of "The
Interlinear Literal Translation of the Greek New Testament." Prepared and
edited in disk format by Maurice A. Robinson, Ph.D, Released on disk in
Online Bible format as FREEWARE by the Editor.*
10. Online
Hebrew:The Old Testament- The Hebrew Consonantal Text According to Leningrad
MS. B19A, Prepared and edited in Online Bible format by Larry Pierce and
Maurice A. Robinson*
Konkordansies/Leksikons
11. Online Bible Greek Lexicon (English)*
12. Online Bible Hebrew Lexicon (English)*
13. Grieks-Nederlands Lexicon*
14. Hebreeuws-Nederlands Lexicon*
15. New American Standard Greek Lexicon*
16. New American Standard Hebrew Lexicon*
17. Strong`s Greek Lexicon*
18. Strong`s Hebrew Lexicon*
(Bronne gemerk met * is almal afkomstig vanaf
die rekenaarprogram
THE WORD from Online Bible, version 1, www.AnswersInGenesis.org)